Radyskuilvoer vir die winter

Radyse is een van die voergewasse wat baie wyd aangepas is en wat met baie min water redelike goeie voer kan lewer vir die winter.

Radyse word hoofsaaklik aan die einde van die somer geplant, in koeler gebiede gedurende Januarie en Februarie, en in warmer gebiede gedurende Februarie en Maart. Saaidigthede wissel van 3 - 5 kg/ha onder droëlandtoestande en van 5 - 25 kg onder besproeiing.

Indien die blare (vegetatiewe groei) benut gaan word, word die gewas teen ‘n hoër plantestand geplant. Indien die knolle egter benut gaan word, word die gewas teen ‘n laer plantestand geplant.

 

Maak kuilvoer

Knolle moet egter voor die einde van Augustus gebruik word, aangesien dit na hierdie tydperk begin vrot. Om hierdie probleem te oorkom, kan produsente kuilvoer van die radys maak en sodoende die tydperk waartydens radyse nuttig is, aansienlik verleng.

Na stroop tyd sit die meeste mielieboere wat ook radyse plant met baie mieliereste. Dit is ook dan wanneer die radyse reg is om uitgehaal te word. Om radyskuilvoer te maak, pak ‘n laag mieliereste omtrent 30 cm hoog, gevolg deur ‘n laag radyse (die hele plant), dan weer ’n laag mieliereste en ’n laag radyse.

Kompakteer die lae met ‘n swaar trekker soos met gewone kuilvoer. Radyse bevat baie vog en soos die trekker die knolle stukkend trap, trek die droë mieliereste die vog op.

Herhaal die proses met lae mieliereste en radyse, en kompakteer weer tot die kuilvoerhoop die gewenste hoogte is. Seel dan die hoop teen suurstof af met seile. Die kuilvoer kan gebruik word soos nodig. ‘n Indrukwekkende 8.4% proteïen is verkry gedurende die analise van so ’n kuilvoerhoop.

Deur op hierdie wyse kuilvoer te maak kan ’n mens jou oortollige radyse bewaar tesame met mieliereste wat reeds tot jou beskikking is.

Artikel deur Fanie Yssel (K2 Saad) BONUS Maart/April 2017.



Back to articles
Next article
 
sitemap
 
home about us products research packing subsidiaries contact us